by Rozanne Els
Wel, buiten om gou uit te vind watter wiskunde-huiswerk jy vir môre moet doen en te skinder oor of Jannie regtig van Sannie hou, is MXit ook ’n goeie manier om in kontak te bly met jou pêlle.
Volgens Laetia Stemmet, ’n sielkundige van Johannesburg, gee MXit tieners die geleentheid om op ’n ander vlak met hul vriende in verbinding te tree.
“As hulle deur ’n moeilik tyd gaan en ’n vertroueling nodig het, is dit dikwels makliker om dit op ’n indirekte manier te doen. “Kommunikasie is makliker vir tieners as dit nie face to face is nie,” voeg sy by.
Die gevaar is egter dat jy nie altyd op MXit weet met wie jy kommunikeer nie en tieners wat ongelukkig is met hul omstandighede kan dalk met die verkeerde mense begin kontak maak en hulself so aan gevaar blootstel. Vir tieners wat sukkel om nuwe vriende te maak en verhoudings op te bou, is MXit ook ’n goeie opsie.
Stemmet meen MXit kan ’n goeie bron van nuwe vriende word, mits dit reg gebruik word. Dit is ook ’n goeie platform om weer met ou vriende in verbinding te tree en bestaande vriendskappe in stand te hou.
Is dit werklik gevaarlik?
Sosiale netwerke soos MXit kom dikwels onder skoot weens die moontlike gevare, soos tieners wat gewaagde foto’s van hulself oor MXit stuur of hul skoolwerk wat negatief beïnvloed word.
Volgens Stemmet kan dit ook gevaarlik wees as tieners sosiale netwerke as ’n ontsnappingsmetode gebruik om nuwe mense te ontmoet. As hulle te veel tyd op die selfoon deurbring en dit hul enigste sosiale ervaring word, raak hul selfs meer teruggetrokke.
Sommige tieners kan ook maklik bedrieg word – jy dink dalk jy praat met 17-jarige Pietie, maar dan is dit eintlik 50-jarige Piet.
Baie tieners kan ook dalk manipuleer word om gewaagde foto’s van hulself te neem en vir kontakte te stuur. Dié foto’s kan oor die netwerk versprei en voor jy weet, het jou hele skool dit gesien.
Ure op MXit laat ook baie minder tyd oor vir ander aktiwiteite soos huiswerk, sport en gesinsaktiwiteite.