JY het alles wat jy nog altyd wou hê. ‘n Gelukkige huwelik, ‘n wonderlike man en kinders, ‘n mooi huis, gesondheid, geld … maar tog is jy nie gelukkig nie.

Wat kort in jou lewe? Wat sal jou gelukkig maak?

Miskien is al wat tussen jou en jou geluk staan jou verkeerde persepsies oor geluk. Dalk glo jy dat iemand anders jou gelukkig kan maak. Dat jy gelukkig sal wees as jy ‘n doelwit behaal het. Of dat jy nie geluk verdien nie.

Drie Gautengse sielkundiges, dr Ingrid Koch van Randburg, Leatia Stemmet van Linden en Toni Lee Stephan van Kemptonpark, het koppe bymekaargesit en ‘n lys van tien algemene mites wat mense oor geluk glo opgestel. Hulle sê ook wat jy kan doen om gelukkig te wees.

Mite 1: My geluk hang af van my omstandighede

Die waarheid: Jou geluk lê binne jou

Hoe gelukkig jy is hang nie af van wat met jou gebeur nie, maar van jou persepsie van die dinge wat gebeur; hoe jy dit ervaar, verwerk en hanteer, sê Toni. “Jy sal nie gelukkiger wees as wat jy nou is as jou omstandighede verander nie. As jy nie nou gelukkig kan wees met wie jy is en wat jy het nie, gaan geen verandering ‘n verskil maak nie.”

Wat jy kan doen

“Maak die keuse om gelukkig te wees”, is Toni se raad. “Deur dankbaar te wees en te fokus op wat jy in jou lewe het, kan jy jouself leer om gelukkig te wees. Wanneer jy voor ‘n uitdaging staan, vertrou dat dit uiteindelik met jou goed sal gaan en dat alles reg sal uitwerk.

“Jy kan gelukkig wees, solank jy aanvaar wie jy is en saam met die vloei van die lewe gaan. Om teen die stroom te probeer swem en te probeer om te wees wat jy nie is nie, is so gek soos ‘n vis wat op droë grond wil leef. Aanvaar die realiteit, verwerk jou emosies en beweeg aan.”

Mite 2: Ander mense kan my gelukkig maak

Die waarheid: Net jy kan jouself gelukkig maak

`Ander mense kan ‘n invloed hê oor hoe jy voel, maar dis ‘n risiko om jou geluk op andere te plaas, waarsku Leatia. “Ons is almal net menslik, en niemand kan die verantwoordelikheid vir iemand anders se emosies op hom neem nie. As jy sê dat iemand jou kwaad of hartseer maak impliseer jy dat jou emosies van buite af beheer word en jy nie self beheer daaroor het nie.”

“Jy gee jou persoonlike mag oor aan iemand anders as jou geluk van iemand anders afhang, beaam Toni. “Dit maak jou ‘n passasier van die lewe, wat wag vir geluk om in jou skoot te val. Jy neem nie self die wiel en ry waarheen jy wil nie. Jy sal soms dink jy is gelukkig omdat iemand anders vir jou gee wat jy wil hê, maar om daarvoor te wag sal jou meestal frustreer jou meer veeleisend maak.”

Leatia vervolg: “‘n Mens hoef nie in ‘n verhouding te wees om gelukkig te wees nie. As jy op jou eie gelukkig kan wees sal jou verhoudings meer suksesvol wees.”

Wat jy kan doen

Ingrid se raad is: “Wees lief vir jouself. Selfs die grootste gebod lui dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.”

“Glo jy sal gelukkig wees, met of sonder ‘n man aan jou sy,” beveel Toni aan. “Al is ek lief vir my man, mis hom as hy op sakereise gaan en sal verpletter wees as hy my los, glo ek dat ek dit sal kan hanteer. Om gelukkig te wees moet ‘n mens bereid wees om jou persepsies te verander.”

Mite 3: Ek sal gelukkig wees as ek maar net …. 10kg kan verloor of by die see kan bly …

Die waarheid: Om ‘n doelwit te behaal sal jou nie gelukkiger maak  nie

“Die Ierse skrywer Oscar Wilde het gesê daar is twee tragedies in die wêreld, om te kry wat jy wil hê en om dit nie te kry nie,” sê Ingrid. “Dinge soos sukses, mag en geld maak ‘n mens nie gelukkig nie, maar ‘n betekenisvolle lewe wel. Materiële doelwitte wat jy bereik kan ook net soveel probleme skep as wat hulle oplos.”

Leatia voeg by: “Baie mense dink byvoorbeeld ‘n luilekker lewe sal geluk bring. Maar ‘n lewe van leeglê op die strand kan verveling en ‘n verlies aan dryfkrag en rigting in jou lewe meebring.

“‘n Mens se doelwitte kan jou dalk tydelik geluk bring. Maar ‘n mens pas maklik aan by positiewe veranderinge in jou lewe, en sodra jy een doelwit bereik het stel jy ‘n ander een. Daar sal dus altyd iets anders wees wat jy wil hê, As jy jou geluk stel op die behaling van doelwitte sal dit voel asof geluk altyd net buite jou bereik bly.”

Wat jy kan doen

“As jy nie het wat jy bemin nie, bemin dan wat jy het,” is Ingrid se raad. “Só fokus jy op dit wat jy het, is en kan doen.”

Mite 4: Net mense met wie dit altyd goed gaan is gelukkig

Die waarheid: Mense wat al swaargekry het is dikwels die gelukkigste

“‘n Mens ontmoet dikwels mense wat ‘n traumatiese ervaring, verlies of ‘n tragedie beleef het, en wat steeds ‘n passie vir die lewe uitstraal,” sê Toni. “Die ongelukkige dinge wat hulle beleef het, het hul persepsie oor die lewe so verander dat hulle voluit leef en elke oomblik waardeer. Hierteenoor is baie mense met wie dit eintlik goed gaan terneergedruk of verveeld.”

Wat jy kan doen

“Jy kan gelukkig wees in moeilike omstandighede as jy kan leer om jou omstandighede en jouself te aanvaar,” sê Toni. “Aanvaar dat slegte dinge gedurig met goeie mense gebeur en dat niemand hiervoor verantwoordelik is nie. Besef dat jou geluk nie afhang van jou emosies of omstandighede nie.

“Dinge soos siekte en dood is deel van die lewe, net soos gevoelens van rou en depressie. Sê: `Ek het ‘n lewe, ek moet dit leef en ek kan gelukkig wees terwyl ek dit doen, ten spyte van wat in die proses gebeur. Ek sal gevoelens soos hartseer en depressie ervaar, maar ek moet daardeur werk en aangaan. Die lewe is ook vol liefde en vreugde en baie seëninge.’

“Aanvaar dat jy ‘n komplekse mens is met jou eie sterk en swak punte, vrese en behoeftes. Fokus op jou positiewe eienskappe. As jy van jouself hou en jouself aanvaar sal ander mense ook.”

Mite 5:  Gelukkige mense voel nooit hartseer of terneergedruk nie

Die waarheid: Gelukkige mense voel ook soms ongelukkig

Gelukkige mense is nie perfek nie, en voel ook soms depressief en ongelukkig, het Toni al gevind. “Maar dis nie toevallig dat gelukkige mense meestal optimisties en positief is, en ongelukkiges pessimisties en negatief is nie. Geluk is nie ‘n onrealistiese en onbereikbare doelwit of ‘n emosie nie. Dis eerder ‘n lewensuitkyk.”

Wat jy kan doen

“Kweek positiwiteit deur te fokus op jou seëninge en elke struikelblok as ‘n uitdaging te beskou, sê Toni. “Die etikette wat jy hang aan die dinge wat in jou lewe gebeur word self-vervullende profesieë. Vermy negatiewe etikette en kies positiewes, soos om te praat van uitdagings in plaas van struikelblokke.

“Onthou, dit waarop jy fokus groei. Hoe meer jy fokus op wat jy nie het nie, hoe meer gaan jou ongelukkigheid groei. Hoe meer jy fokus op wat oorvloedig in jou lewe is, of wat goed is in jou lewe, hoe meer gaan jou gevoelens van geluk en tevredenheid groei.”

Mite 6: ‘n Mens vind geluk as jy dit najaag

Die waarheid:  Jy vind geluk omdat jy ‘n lewe van betekenis leef

Ingrid vertel: “Die Oostenrykste psigiater Victor Frankl Koppel die soeke na geluk aan die soeke na betekenis. Hy het gesê die lewe in sigself het nie sin nie, jy moet die sin skep. Uiteindelik is dit ‘n spirituele perspektief, want sin is gebaseer op waardes. Ons siel is honger vir betekenis. Geluk kruip my lewe binne terwyl ek besig is om sinvol te leef.”

Wat jy kan doen

“Ons moet so kan lewe dat ons lewens saakmaak, sodat die wêreld ten minste ‘n bietjie anders is omdat ons hier was,” sê Ingrid. “Die geestelike Augustinus het gesê, `Ons siel bly soekend, totdat dit geborgenheid, vrede en vreugde in ons Skepper vind.’

“Sodra jy jou besig hou met kosbare, waardevolle sinvolle aktiwiteite, kom sit geluk saggies op jou skouer. Soek daarom op die regte plekke na geluk. Besluit waaraan jy jou energie wil gee en waarvoor jy uiteindelik onthou wil word.”

Leatia voeg by: “Om betekenis en sinvolheid in jou lewe te hê dra by tot ‘n gevoel van langdurige geluk.”

Mite 7: Geluk is net ‘n vlietende emosie

Die waarheid: Geluk is ‘n holistiese lewensbeskouing

“Daar is ‘n verskil tussen geluk (happiness) en vreugde (joy),” sê Ingrid. “Mense dink dikwels verkeerdelik dat geluk kortstondiger is as vreugde.”

“Emosies is vlietend, en is gewoonlik gekoppel aan ‘n gebeure of situasie, soos ‘n huwelik of ‘n nuwe motor,” verduidelik Toni. ‘n Mens kan jou werk verloor en steeds gelukkig wees omdat jy inherent ‘n gelukkige mens is. Sulke mense verwerk hul emosies en bly nie lank ongelukkig nie.”

“Sommige mense verkies om te glo dat geluk van verbygaande aard is en dat optimisme nie realisties is nie,” vertel Leatia. “Hulle is dikwels jammer vir optimiste en dink hulle sien nie die lewe soos dit werklik is nie. Ons interpreteer elke situasie vanuit ons persoonlike oogpunt, en sal vind waarna ons soek om onsself reg te bewys. ‘n Selfvervullende siklus begin dus, en word erger namate ons meer `bewyse’ van ons oortuigings vind.”

Wat jy kan doen

Toni gee raad: “Hou in gedagte dat ‘n jy op sekere tye ‘n verbygaande gevoel van geluk kan ervaar, wat dalk veroorsaak is deur ‘n goeie bui of ‘n gevoel van welbehaaglikheid. Ware geluk is egter aan ‘n holistiese evaluasie van jou lewe in die algemeen gekoppel. Jy kan dus net vir ‘n kort rukkie bly wees oor iets, of hartseer of kwaad wees, maar dit beteken nie dat jy in die algemeen ongelukkig is nie.”

Mite 8: Dis ‘n mors van tyd om gelukkig te probeer wees

Die waarheid: Ons is van nature gelukkig

“Mense glo dikwels dat die lewe oor swaarkry gaan, en dat daar nie plek is vir geluk nie,” sê Leatia. “In werklikheid is geluk die natuurlike staat. Kinders word gebore met die vermoë om gelukkig te wees. Dis meer normaal om gelukkig te wees as om swaar te kry. Ons moet harder daaraan werk om miserabel te wees as gelukkig. Dis die volwasse wêreld wat kinders leer om negatief te wees. Ons impliseer dat gelukkigheid kinderagtig is, of ‘n onvolwasse reaksie op die uitdagings van die lewe. Kinders is aanpasbaar en taai juis omdat hulle die wêreld vanuit ‘n meer positiewe raamwerk beskou.”

Wat jy kan doen

Dink anders, sê Toni. “In plaas daarvan om byvoorbeeld te sê: `Die lewe gaan oor swaarkry, daarom het ek my werk verloor — dis net nog ‘n negatiewe gebeure in ‘n negatiewe wêreld,’ moet jy eerder sê: `Dat ek my werk verloor het is aaklig en laat my moedeloos voel, maar dit kan ‘n geleentheid wees om ander moontlikhede te ondersoek, en dinge werk altyd reg vir my uit.’ Om alles persoonlik op te neem laat ons swaarkry. Gelukkige mense laat gebeure van hulle afrol, soos water van ‘n eend se rug.”

Mite 9: Ander mense is gelukkiger as ek

Die waarheid: Ons weet nie wat ander mense regtig dink of voel nie

“Ons vergelyk onsself dikwels met ander mense en dink dat hulle gelukkiger is as ons,” sê Leatia. “Wat ons nie besef nie is dat mense nie altyd wys hoe hulle regtig voel nie. Dit is sosiaal aanvaarbaar, veral omdat mense geneig is om diegene te vermy wat met hul emosies te koop loop. Omdat ons nie ander mense se gevoelens of gedagtes kan ervaar nie, dink ons maklik dat hulle gelukkiger is as onsself. Jy kan byvoorbeeld afgunstig wees op iemand anders se verhouding, wat in vergelyking met joune so suksesvol lyk. Dit kan gevaarlik wees, omdat ons dan kan probeer om die onmoontlike te vermag, wat ons onvervuld en nog ongelukkiger kan laat voel.

Wat jy kan doen

Hou altyd in gedagte dat elke mens sy eie probleme het, maak nie saak hoe dit vir jou lyk nie.

Mite 10: Dis selfsugtig om gelukkig te probeer wees

Sommige mense voel dat dit selfsugtig is om op hul eie geluk te fokus, sê Leatia. Tog moet ons onthou dat ons nie ander mense gelukkig kan maak nie, en dit selfs minder kan doen wanneer onsself nie vervul en gelukkig is nie.

Wat jy kan doen

Ons moet meer tyd en aandag aan ons eie emosionele behoeftes bestee, en só leer hoe om dit te bevredig. Ons glo te dikwels dat ons ons eie geluk vir ander mense s’n moet inboet. Dit kan op die lange duur meer skade as goed doen, en ‘n gevoel van leegheid in onsself veroorsaak.

Kontakbesonderhede:
Ingrid Koch: dringrid@gmx.net
Leatia Stemmet: www.jmdpsych.com; leatia@jmdpsych.com
Toni Lee Stephan: kempact@icon.co.za; www.yourehappy.blogspot.com